|
|
|
|
Vroegste Navorsing In die 1980's het Prof. F.J. Labuschagne kosbare baanbrekerswerk gedoen om vir die eerste keer ooit 'n uitgespreide stamregister van die Labuschagne familie tot stand te bring. Dit het gebou op die pionierswerk van De Villiers en Pama, wat gepoog het om 'n basiese stamregister van meeste bekende Suid-Afrikaanse families te skep. Prof. Labuschagne se werk is uiteindelik gepubliseer in 'n kosbare boek met die titel "Die Labuschagnes... Waarvandaan en Waar Het Hulle Meetsnoere Geval...?" Aangesien daar dikwels navrae in hierdie verband is kan dit hier vermeld word dat hierdie boek ongelukkig nie meer in druk is nie. Moderne sagteware Na die afsterwe van Prof. Labuschagne het grootskaalse navorsing vir 'n paar jaar stilgestaan. Uiteindelik het 'n paar individuele navorsers begin om hulle eie stamlyne meer volledig na te vors. Met die beskikbaar wording van moderne genealogiese sagteware het die navorser se taak aansienlik makliker geword. Uiteindelik is van hierdie stamlyne in standaard genealogiese formaat gekombineer met Prof. Labuschagne se data om 'n raamwerk te skep van ongeveer 3,000 name. Hierdie elektroniese databasis word vandag maandeliks aangevul met nuwe navorsing en bydraes van Labuschagnes van oor die hele węreld. Dit het ontaard in 'n groeiende lewenstaak wat hopelik 'n fondasie sal skep vir 'n nuwe generasie om die navorsing voort te sit van geslag tot geslag. Daar bestaan vandag 'n verskeindenheid goeie genealogiese sagteware wat gebruik kan word. Sommige sagteware is gratis, ander bied 'n keuse tussen gratis basiese- en professionele weergawes, en sommige sagteware is taamlik duur. Vir die Labuschagne databasis word Legacy sagteware gebruik. Legacy word algemeen gereken as een van die drie beste genealogiese sagteware pakette wat bestaan. Uit die drie bestes het elke pakket sy eie unieke goeie- en sterk punte. Legacy kan egter waarskynlik as die mees-gesofistikeerdste produk beskou word. Dit mag ietwat meer ingewikkeld wees om te gebruik, maar dit bied 'n verskeidenheid opsies wat die sagteware baie nuttig maak. Verder help dit om 'n produk te gebruik wat deur enorme getalle navorsers węreldwyd gebruik word omdat dit die uitruil van data en oplos van probleme vergemaklik. Legacy sagteware het onlangs in 'n Afrikaanse toets-weergawe beskikbaar geword. Die doelstellings van navorsing 'n Belangrike beginsel in familienavorsing is die feit dat daar gepoog moet word om nie navorsingswrk te dupliseer nie. Om hierdie rede word daar gepoog om met individuele familienavorsers saam te werk sodat energie eerder aan nuwe uitbreidings van die stamregister gespandeer kan word. Dit is verder ook belangrik om te verstaan dat van ons oudste kennis lankal reeds onherroepelik verlore is. Wat daarvan nog bestaan, leef vandag nog voort in argiewe en museums regoor die land. Hierdie bronne is voorlopig relatief veilig teen die verweer van tyd en kan met verloop van jare nog verder gefynkam word. Wat egter veel meer krities is, is die behoud van familie inligting in die meer-onlangse geslagte. Veral inligting wat vandag nog uitsluitlik te vinde is in die geheue van 'n ouer geslag mense wat jaarliks al minder en minder word. Hierdie kennis en herinneringe is prysloos omdat die verlies daarvan met geen geld of moeite teruggekoop kan word nie. So word die Labuschagne navorsing 'n aaneenlopende gejaag teen die grootste vyand--tyd. Nog 'n verlies waarteen daar geveg moet word, is die behoud van kosbare ou dokumente, foto's en ander familie inligting. Elke jaar verhuis ouer mense na hul kinders of ouetehuise, en elke jaar is daar van hulle wat afsterwe en te ruste gelę word. In baie gevalle beskik sulke persone nog oor kosbare familie foto's en portrette, albums, briewe, dagboeke, of familiebybels met geslagsregister voor in. Heel dikwels aanvaar of hoop die persone dat hul nasbestaandes hierdie kosbarhede sal bewaar. Ongelukkig gebeur dit ontstellend dikwels in die beste families dat 'n moderner geslag eenvoudig minimale- of geen waarde aan sulke artikels heg nie. Elke familie navorser kan vertel van sulke bronne wat summier weggegooi of verbrand was, of ten beste, in kas gegooi was om geleidelik aan mot en roes blootgestel te word totdat dit uiteindelik tog weggemaak sal word. Dit is deel van die familiebond se erns om te probeer verseker dat sulke inligting hopelik nie vir ewig verlore hoef te gaan nie. Gelukkig maak moderne tegnologie dit vandag moontlik om foto's en dokumente digitaal te kopieër sodat dit op professionele wyse bewaar kan word, al sou die eienaars verkies om die oorspronklikes te behou. Die uiteindelik doelwit van die Labuschagne navorsing is 'n mikpunt wat natuurlik nooit behaal sal word nie. Dit is naamlik om elke Labuschagne ter węreld wat nog ooit geleef het, en vandag bestaan, te dokumenteer op die geslagsregister. Hierdie is 'n taak wat nie net jare nie, maar geslagte sal duur, en steeds nooit voltooi kan word nie omdat die familie vandag te groot is en aanhou vermeerder en versprei. Maar dit is die mikpunt en dit is waaroor daar gedroom kan word. Hierdie is 'n taak wat groter is as wat enige enkele persoon kan verrig. Maar met die hulp van moderne negnologie en 'n groeiende bewustheid, word die taak gelukkig geleidelik makliker. Dit is veelseggend om te besef dat genealogie, oftewel familienavorsing, vandag in baie westerse lande as die nommer een populęrste stokperdjies gereken word--en beslis gewoonlik onder die top drie. Dit is 'n stokperdjie wat min geld vereis, wat baie vriende kan maak, wat baie vervullend is, en wat maklik is om aan te leer. Hopelik sal ons familie daar buite toenemend begin belang stel, nie alleen om seker te maak dat hulle familiebesonderhede deur die bond gedokumenteer is nie, maar hopelik ook om self 'n bietjie navorsing te doen--al is dit net op klein skaal. |
|
:
|