NOTULE VAN DIE AGSTE VERGADERING VAN DIE LABUSCHAGNE

   FAMILIEBOND GEHOU TE JOHANNESBURG OP 2 FEBRUARIE 2008

 MS Word Weergawe

1. Verwelkoming en verskonings

Hennie verwelkom lede teenwoordig, te wete Les en Monica, Hennie en Isabel van Kroonstad en Willie (William) van die Wesrand. Die volgende persone het verskoning aangebied: Herman, Esperanza en Francoise.

2. Sakelys en vorige notule

Word voorgelê en aanvaar.

            3. Sake uit notule

a)      Die Komitee neem kennis dat Herman nou weer al die verlore inligting          met betrekking tot die Familiebond herwin het, en dat hy ten volle aktief is met die plasing van nuwe lede op die adreslys. Hy het die afgelope tyd weer etlike lede van die familie kon naspoor tot by ons stamvader, Pierre Labuschagne. Hennie doen weereens ʼn beroep op lede om inligting van hulle voorsate aan Herman te stuur om vir hulle dieselfde te doen.

b)      Familiewapen: Les deel die vergadering mee dat hy na sy besoek aan Frankryk, sekere aanbevelings aan Departement Heraldiek gedoen het, en dat ons nou twee moontlike opsies het om van te kies. Hy sal dit  voorlê by die Familiebyeenkoms wat eersdaags gaan plaasvind. Tydens hierdie byeenkoms sal met ʼn meerderheidsbesluit  ʼn finale voorstel gemaak word vir registrasie. Die vergadering sal dan ook besluit op welke wyse die fondse ingevorder sal word.  Na beraming sal dit nagenoeg R 2 000,00 beloop. Die vergadering stel voor dat dié aangeleentheid solank op die webwerf geplaas sal word vir kennisname deur belangstellendes.  Les sal ook tydens die familiebyeenkoms breedvoerig aandag gee aan die wetlike aspekte aangaande die gebruik van die familiewapen deur belangstellendes.

c)      E-pos geselsforum en webtuiste: Hennie deel die vergadering mee dat Herman reeds die fooie betaal het vir die registrasie van beide hierdie geriewe. Dit het R 100,00 beloop, asook ʼn maandelikse heffing van  R50,00 per maand. ʼn Eenparige mosie van dank aan Herman word genotuleer. Hennie van Kroonstad lug die mening dat sodra ons finansies dit toelaat, ʼn volledige analise gedoen moet word om lopende koste van hierdie aard uit ons fondse te betaal. Hy onderneem om in tyd om te kom, ʼn behoorlike begroting op te stel en te administreer. Die vergadering bedank hom vir hierdie gebaar, en onderneem om dit in gedagte te hou vir die toekoms.

d)      Pontac: Les deel die komitee mee dat hy aanstons met hulle in verbind-

ing sal tree met die oog daarop om van hulle landgoedwyn deur die familiebond te versprei. Hy sal ook hierdie saak opneem tydens die familiebyeenkoms. 

e)      Beskermheer: Les verduidelik dat beide afgetrede regter Joop Labuschagne en Cilna Van Wijk die uitnodiging  aanvaar het om as beskermhere van die Bond op te tree. Na bespreking word besluit dat Prof. Casper van Nederland ook uitgenooi word, met die titel van ere-beskermheer, na aanleiding van die uitstekende navorsingswerk wat hy gedoen het oor die vroeë Europese geskiedenis van die Labuschagne families. Ons sien uit om beide Regter Joop en Cilna teenwoordig te hê met die volgende vergadering. Die statuur van hierdie persone sal baie bydra om die aansien van die familiebond te verhoog, en hulle kan ook ʼn belangrike funksie verrig tydens byeenkoste, fondsinsamelingsprojekte, en so meer.

f)        Hennie van Kroonstad deel die vergadering mee oor sy planne om die aksies en bestaan van die familiebond op Radio Oranje te laat uitsaai, terwyl Isabel voelers sal uitsteek om dieselfde te doen deur die NG Kerk van die Vrystaat. Hulle sal verslag doen tydens die volgende vergadering.

g)      Na aanleiding van ʼn versoek van Les, deel Hennie (Voorsitter),  die vergadering mee dat Herman op ons stamboomgeskiedenis, nie ʼn direkte nasaat van Pierre Labuschagne kon opspoor nie. Die direkte afstammelingslyn loop dood by ʼn sekere Gert Cornelius Labuschagne, gebore 20 Februarie 1868. Geen verdere besonderhede van hom is aan ons bekend nie.

            4.  Finansies

Die vergadering neem kennis dat ons tans oor ʼn saldo van R 1 195,11 beskik, na die ruimhartige donasies van die komiteelede. Willie dra ook R 50,00 by tot ons fondse.

            5. Sake uit finansies

Hennie versoek die komitee om ʼn persoon te benoem om saam met hom die Kasboek te teken in die afwesigheid van Herman. Daar word besluit dat Hennie van Kroonstad dit sal doen.

            6. Nuwe Besigheid

a)      Hennie deel die komitee mee dat verskeie nuwe lede die afgelope tyd by ons aangesluit het, hoofsaaklik as gevolg van ons webwerf op internet. Voornemende lede kontak hom  per selfoon, en tydens daardie kontak, bekom hy al die nodige inligting. Dit wil voor kom dat al hoe meer mense deur die elektroniese media met ons in aanraking kom. Hy versoek lede ook om die boodskap mondeliks oor te dra, en meld die feit dat hy kontak gemaak het met Willie Labuschagne, nuusredakteur van SAUK. Mense soos hierdie is vir ons van onskatbare waarde, omdat hulle in ʼn posisie is om ons bekend te stel  oor die  radio.

b)      Melding word ook gemaak oor die nuwe vorms wat lede nou kan gebruik om inligting aangaande hul voorgeslagte aan Herman deur te stuur. Dit sal beskikbaar gestel word tydens die komende familiebyeenkoms.

c)      Hennie deel die vergadering mee oor ʼn uitnodiging wat ons van die Genealogie en Erfenis Stigting ontvang het, wat in Pretoria sal plaasvind in Meimaand. Hy en Monica sal ons stalletjie daar beman.

d)      Jaarlikse Familiebyeenkoms: Na bespreking, word daar besluit om dit aan te bied op Sondag, 18 Mei, by die Voortrekkermonument. Willie onderneem om die instansie te kontak om meer uit te vind oor hulle geriewe, etes, en so meer. Die komitee is dit eens dat dit ʼn baie belangrike geleentheid is, en dat besonderhede in die fynste detail beplan moet word. Die program sal sy finale beslag  kry  tydens ons volgende vergadering

7. Volgende vergadering

Na bespreking, word besluit op Saterdag 19 April by Les en Rae in Pretoria. Hennie bedank al die lede vir hulle teenwoordigheid en ywer. Die vergadering sluit om 12.30.

Voorsitter

:

Kontak besonderhede:

Besoekers sedert Januarie 2007: Hit Counter

Bondbestuurskwessies:

Bondvoorsitter: Hennie Labuschagne
082 782 3210

Webtuiste en Navorsingsnavrae:

Herman Labuschagne
011 474 8094 (w)