Grondwet van die Labuschagne Familiebond

Agtergrond

Tydens ‘n landswye Labuschagne familiebyeenkoms by die Voortrekkermonument in Pretoria op 5 Maart 2006 is daar deur die persone teenwoordig ‘n algemene besluit geneem om oor te gaan tot die stigting van ‘n formele Familiebond.

Die bond is ‘n vrywillige organisasie om die Labuschagne erfenis en geskiedenis te bevorder en uit te dra. Die bond sal bedryf word as ‘n vrywillige organisasie sonder winsbejag. Enige fondse wat gegenereer sou word sal uitsluitlik aangewend word om die belange van die organisasie uit te bou en te bevorder.

Doelwitte van die Bond

Die doelwit en oogmerke van die Labuschagne Familiebond sluit in die volgende:

1.                  Die organisering van ‘n jaarlikse landswye Labuschagne familiebyeenkoms.

2.                  Die behoud en bevordering van kommunikasie tussen lede van die Labuschagne familie wêreldwyd, ten einde die familie se identiteit te behou en ‘n gevoel van samehorigheid te bevorder. Dit word in besonder as belangrik beskou dat kontak met Labuschagne familielede wat na ander wêrelddele migreer, behou kan word.

3.                  Die bevordering van die versameling en bewaring van genealogiese data en kontakbesonderhede van Labuschagne familielede.

4.                  Om geskiedkundige navorsing ten opsigte van die Labuschagne familie te ondersteun en te bevorder.

Verkiesing van Bestuur

Ten einde die doelwitte en oogmerke van die Labuschagne Familiebond te bereik, sal ‘n bestuurskomitee jaarliks verkies word tydens die jaarlikse familiebyeenkoms.

Die aantal bestuurslede sal deur die vergadering self bepaal word, maar sal nie minder nie as vier persone beloop.

Die volgende ampsdraers sal verkies word: ‘n Voorsitter, vise-voorsitter, ‘n sekretaris, tesourier, en tot agt addisionele lede. ‘n Kworum sal bestaan uit minstens vyf lede. Indien hierdie ampsdraers nie genomineer word tydens die jaarlikse familiebyeenkoms self nie, sal die ampsdraers deur die bestuurskomitee self verkies word tydens die eerste daaropvolgende bestuursvergadering.

Standaard verkiesingsprosedures sal gevolg word sodat bestuurslede genomineer word, en waarna daar op demokratiese wyse oor die nominasies gestem sal word.

Tydens bestuursvergaderings sal elke bestuurslid een stem hê, maar indien die bestuurslede uit ‘n ewe-getal bestaan, sal die verkose voorsitter twee stemme hê.

Indien bestuurslede nie langer op die bestuur wil dien nie, moet ‘n skriftelike bedankingsbrief aan die sekretaris oorhandig word, waarna die bestuurslede sal besluit of ‘n nuwe tydelike bestuurslid verkies sal word om die posisie te vul, of indien die bestuurlid ‘n ampdraer was, sal daar besluit word of ‘n ander bestuurslid verkies sal word om die betrokke amp oor te neem. Dieselfde prosedure sal gevolg word indien enige bestuurslid te sterwe sou kom of om enige rede vir ‘n lang termyn nie beskikbaar sou wees om sy of haar rol te vervul nie—b.v. weens langdurige siekte of afwesigheid.

Bestuurslede wat vergaderings nie gereeld bywoon, of hul taak nie na bevrediging verrig nie, kan op ‘n meerderheidstemming-basis deur die bestuursvergadering vervang word met ‘n nuwe verkose bestuurslid. Die bestuurskomitee het die reg om verdere lede te koöpteer.

Pligte van bestuurslede

Bestuurslede onderneem om verkieslik vier maal, maar nie minder nie as twee maal per jaar te vergader.

Tydens die eerste bestuursvergadering sal die grondwet van die familiebond in her-oorweging geneem word om te verseker dat dit steeds op deurlopende wyse aan die doelwitte van die familiebond voldoen. Indien enige wysigings aan die grondwet aangebring word, sal die nuwe grondwet tydens die eerste jaarlikse familiebyeenkoms aan die volle vergadering voorgelê word vir goedkeuring.

Tydens bestuursvergaderings sal vorige aksies geëvalueer word en toekomstige take en aksies geïdentifiseer word.

Die voorsitter sal volgens standaard praktyk vergaderings lei en die uitvoering van pligte en opgelegde take van bestuurslede monitor.

Die sekretaris sal vergaderings notuleer, algemene korrespondensie hanteer en behulpsaam wees met die reëling van nuwe vergaderings.

Finansiële sake

Die tesourier sal verantwoordelik wees vir die insameling van fondse, die verantwoordelike bestuur daarvan, die betaling van finansiële verpligtinge, en finansiële verslaggewing aan die bestuursvergaderings. Vir enige bankrekenings wat oopgemaak word moet alle onttrekkings/betalings skriftelik gemagtig word deur die voorsitter, plus twee lede. Betalings of onttrekkings moet deur minstens twee tekengemagtigdes geteken word.

:

Kontak besonderhede:

Besoekers sedert Januarie 2007: Hit Counter

Bondbestuurskwessies:

Bondvoorsitter: Hennie Labuschagne
082 782 3210

Webtuiste en Navorsingsnavrae:

Herman Labuschagne
011 474 8094 (w)