Kort Oorsig van die Geskiedenis van ons Franse Voorouers

deur Prof Casper Labuschagne

Daar is maar min Suid-Afrikaanse Hugenote families wat soveel informasie het oor hulle Protestantse Franse voorouers as die Labuschagnes. Ons is in die gelukkige posisie dat ons dokumentêre gegewens het oor die herkoms van ons Franse stamvader Pierre Labuscaigne uit Bergerac, sy vlug na Nederland, sy aankoms in Amsterdam, sy verblyf in Enkhuizen en sy vertrek na Die Kaap die Goeie Hoop in 1711. Ons weet wie sy oupa en ouma was, sy vader en moeder, sy broers en susters, sy ooms en tantes, neefs en niggies. Ook het ons die nodige informasie oor ons stammoeder Marie Anne Bacot, afkomstig uit Leeuwarden in Friesland, haar Franse vader en Nederlandse moeder, haar broer en susters, haar huwelik met Pierre, hulle drie kinders, wat almal in Enkhuizen gebore is, en haar vertrek na die Kaap in 1717.

Pierre is in Bergerac aan die Dordognerivier gebore en gedoop op 23 September 1675 as die sesde van die tien kinders van Estienne Labuscaigne en Suzanne Fredet. Pierre se oupa, Abraham, en sy ouma Jeanne Artieu, het in Monbazillac gewoon, by die beroemde kasteel met dieselfde naam, 7 km suid van Bergerac, waar Abraham ouderling was van die Protestantse kerk. Pierre se vader en sy oom Isaac het hulle egter in Bergerac gevestig, as kleremakers, ’n vak wat ook Pierre later in Nederland twaalf jaar lank sou gaan beoefen.

Die stad Bergerac en die omliggende gebied was in dié tyd ’n belangrike Protestantse bolwerk, waar tienduisende Hugenote gewoon het. Toe die gruwelike vervolging van die Protestante, selfs vóór die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, in hewigheid en wreedheid toegeneem het, het duisende mense gevlug. Die Protestantse kerkgebou in Bergerac is in 1682 op las van Lodewyk XIV met die grond gelyk gemaak en al die predikante moes die stad noodgedwonge verlaat. Baie ongetroude jong mense en bemiddelde families het daarin geslaag om Frankryk te ontvlug. Wie nie kon wegkom nie moes daar die konsekwensies van aanvaar: óf as martelaars sterf, óf hul geloof offisieel afsweer om te oorleef en hul kinders in lewe te hou. Pierre se vier jaar ouere neef Samson het in 1692 saam met vyf ander Bergeraccers geprobeer om via Switserland Frankryk te ontvlug, maar is vlak voor die Switserse grens gevange geneem en tot lewenslange gevangenisstraf en die galeie veroordeel. Pierre self het in 1696, toe hy byna 21 was, Samson se voorbeeld gevolg en daarin geslaag om via Duitsland Nederland te bereik, die land by uitstek van godsdiensvryheid.

Frankfurt aan die Mainrivier was in dié tyd ’n belangrike eerste vlugdoel van Hugenote oor die Franse grens. Daar het die Duitse Protestantse Kerk tienduisende Hugenote opgevang, geregistreer en gehelp om verder te reis na Nederland en die Skandinawiese lande. Onder die vlugtelinge van die jaar 1696 word die naam van Pierre Labuscagne uit Bergerac vermeld. Of hy toe daar ’n tyd lank gebly het, of elders ’n tydelike heenkome gevind het, weet ons nie. Wat ons wel weet is dat hy ’n jaar later, op 28 Julie 1697, in Amsterdam aangekom het, waar hy as vlugteling geregistreer en ingeskryf is as belydende lidmaat van die Waalse (Franse) Hervormde Gemeente. Ruim ’n jaar later, op 6 Oktober 1698, is hy daar uitgeskryf, blykens sy bewys van lidmaatskap by sy vertrek na Enkhuizen.

In Enkhuizen aan die Zuiderzee het hy hom as kleremaker gevestig, vermoedelik op uitnodiging van Hugenote wat daar vanaf 1686 ’n heenkome gevind het. Die Franse vlugtelinge is daar, soos elders in die Nederlande, liefdevol ontvang en kon as ’n aparte Franssprekende gemeente deel uitmaak van die Nederlandse Hervormde Kerk, met ’n eie kerkplek en ’n eie predikant, Dominee Pierre Roufrange. Hy was een van die tweehonderd predikante wat na die herroeping van die Edik van Nantes Frankryk gedwonge moes verlaat en na Nederland uitgewyk het. Netsoos ses ander vlugtelinge in Enkhuizen, was hy afkomstig uit dieselfde streek as Pierre. Dit het daar seker toe bygedra om Pierre in Nederland tuis te laat voel, na al die verskrikkinge wat hy in Bergerac meegemaak het en die ontberinge tydens sy vlug. Hy was nou in ’n vry land, had werk en kon ’n nuwe bestaan opbou en ’n gesin stig.

In die klein Franse gemeenskap, waar almal mekaar geken het, het Pierre al spoedig kennis gemaak met ’n meisie uit Leeuwarden, wie se stiefsuster in Enkhuizen gewoon het en getroud was met ’n vriend van Pierre. Haar naam was Marie Anne Bacot (doopnaam Maria Anna), gebore op 2 Maart 1679 uit die gemengde huwelik van François Bacot, uit Tours in Frankryk, en Josine Hulscher, uit Groningen. Daaruit kan ons aflei dat Marie Anne tweetalig was: zowel Nerderlands- as Franssprekend, en dat sy Pierre kon help om die Nerderlandse taal gou onder die knie te kry. So kon Pierre later in die Kaap werk kry as tweetalige huisonderwyser om die kinders van Franse gesinne die Nederlandse taal by te bring.

Pierre en Marie Anne is op Vrydag 3 Augustus 1703 in die Westerkerk in Leeuwarden getroud, nadat hulle gebooie drie agtereenvolgende Sondae in Enkhuizen afgekondig is en hulle toestemming gekry het om in Leeuwarden te trou. Marie Anne en haar ouers was naamlik lidmate van die Nederlandse Hervormde Kerk in die Friese hoofstad. Van al die plegtighede is daar dokumentêre bewys in die argiewe van beide stede.

Gelukkig het ook die dokumente van die beskeie argief van die Franse Gemeente in Enkhuizen nie verlore geraak nie. Daardeur het ons onder andere die oorspronklike doopsertifikate van die drie kinders van Pierre en Anne Marie: Jeanne Bernardine, gebore en gedoop op Sondag 13 Julie 1704, Jean, gebore op 16 Oktober en gedoop op 17 Oktober 1706, en François, gebore op 6 Oktober en gedoop op 7 Oktober 1708. Jeanne Bernardine sou in die Kaap die stammoeder word van die Maritze en Jean die stamvader van alle Labuschagnes. François is op jeugdige leeftyd kinderloos oorlede.

Ons is ook in die gelukkige posisie om te weet waar die familie Labuscaigne in Enkhuizen gewoon het: in Torenstraat, ’n straatjie wat uitloop op die plein van die statige Zuiderkerk.

Die presiese rede waarom Pierre in diens getree het van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC), en daardeur in die Kaap de Goede Hoop beland het, is nie bekend nie. Maar dit lê voor die hand om dit toe te skryf aan ekonomiese omstandighede. Reeds in die tweede helfte van die 17de eeu het Enkhuizen ’n ekonomiese neergang beleef, veral deur die sterke konkurrerensie van Amsterdam as bloeiende stad van handel in Noord-Nederland. Die verwagte groei van Enkhuizen, veral ook deur die koms van Franse vlugtelinge, het uitgebly. Die stad is dikwels geteister deur oorstromings en een van die belangrikste industrieë van die stad, die vissery, het veel te kampe gehad met seerowery en plundering van vissersbote. Hier kom nog by dat die wewery en kleremakery, waar Pierre vermoedelik in diens was, ekonomies nie kop bo water kon hou nie en gesluit moes word, waardeur Pierre waarskynlik werkloos geword het.

Miskien het hy gehoor van die ander ‘beloofde land’, wat oorloop van melk en heuning, en nie te vergeet nie, wyn: die Kaap de Goede Hoop, en dat hy besluit het om in diens te tree van die VOC om op dié manier ’n tweede nuwe lewe te begin. Maar dan as wynboer, soos hy dit in die wynstreek Bergerac in sy jeugjare meegemaak het! Geen wonder nie dat hy, toe hy eenmaal in Paarl ’n stukkie grond toegewys gekry het, daar uiteindelik ’n wynplaas van gemaak het. En dat hy sy plaas ‘Pontac’ genoem het ter herinnering aan die wêreldberoemde Pontacwyn uit die streek waar hy opgegroei het.

Vir nadere besonderhede oor ons Franse voorouers word die lesers verwys na my webwerf: www.labuschagne.net, waar hulle my volledig gedokumenteerde en van interessante foto’s voorsiene navorsingsverslag kan lees in Afrikaans, Engels, of Nederlands. Heil die leser!

 

Doopsertifikaat van Jean Labuscaigne, met Pierre se handtekening

Vertaling

Doop van Jean

Labuscaigne

Sondag 17 Oktober 1706 te Enchuysen in die Kerk, in die namiddag.

Die seun van Pierre Labuscaigne en Marie Anne Bacot sy vrou, gebore gister die 16de van hierdie maand en jaar, is gedoop deur Meneer Roufrange, predikant van hierdie Kerk, getoon en Jean genoem deur sy vader Pierre Labuscaigne, verteenwoordigend Jean Belier en Elisabeth Bacot, tante van genoemde kind.

Pierre Labuscaigne                 Roufrange  Predikant

Paysant :  Skriba

Opmerking 1: Pierre se handtekening in sy mooi ontwikkelde handskrif staan presies so op nog twee dokumente. Dit beteken dat daar geen enkele twyfel is oor die manier waarop hyself sy naam gespel het nie!

Opmerking 2: Wie geïnteresseerd is in my eie afstammingslyn kan op my webwerf die artikel “Dertien Geslagte Labuschagne” raadpleeg.

C.J. Labuschagne

 

:

Kontak besonderhede:

Besoekers sedert Januarie 2007: Hit Counter

Bondbestuurskwessies:

Bondvoorsitter: Hennie Labuschagne
082 782 3210

Webtuiste en Navorsingsnavrae:

Herman Labuschagne
011 474 8094 (w)