|
|
|
|
Kort
Oorsig van die Geskiedenis van ons Franse Voorouers deur
Prof Casper Labuschagne Daar is maar min Suid-Afrikaanse Hugenote families wat soveel informasie het
oor hulle Protestantse Franse voorouers as die Labuschagnes. Ons is in die
gelukkige posisie dat ons dokumentêre gegewens het oor die herkoms van ons
Franse stamvader Pierre Labuscaigne uit Bergerac, sy vlug na Nederland,
sy aankoms in Amsterdam, sy verblyf in Enkhuizen en sy vertrek na Die Kaap die
Goeie Hoop in 1711. Ons weet wie sy oupa en ouma was, sy vader en moeder, sy
broers en susters, sy ooms en tantes, neefs en niggies. Ook het ons die nodige
informasie oor ons stammoeder Marie Anne Bacot, afkomstig uit Leeuwarden
in Friesland, haar Franse vader en Nederlandse moeder, haar broer en susters,
haar huwelik met Pierre, hulle drie kinders, wat almal in Enkhuizen gebore is,
en haar vertrek na die Kaap in 1717. Pierre is in Bergerac aan die Dordognerivier gebore en gedoop op 23
September 1675 as die sesde van die tien kinders van Estienne Labuscaigne en
Suzanne Fredet. Pierre se oupa, Abraham, en sy ouma Jeanne Artieu, het in
Monbazillac gewoon, by die beroemde kasteel met dieselfde naam, 7 km suid van
Bergerac, waar Abraham ouderling was van die Protestantse kerk. Pierre se vader
en sy oom Isaac het hulle egter in Bergerac gevestig, as kleremakers, ’n vak
wat ook Pierre later in Nederland twaalf jaar lank sou gaan beoefen. Die stad Bergerac en die omliggende gebied was in dié tyd ’n belangrike
Protestantse bolwerk, waar tienduisende Hugenote gewoon het. Toe die gruwelike
vervolging van die Protestante, selfs vóór die herroeping van die Edik van
Nantes in 1685, in hewigheid en wreedheid toegeneem het, het duisende mense
gevlug. Die Protestantse kerkgebou in Bergerac is in 1682 op las van Lodewyk XIV
met die grond gelyk gemaak en al die predikante moes die stad noodgedwonge
verlaat. Baie ongetroude jong mense en bemiddelde families het daarin geslaag om
Frankryk te ontvlug. Wie nie kon wegkom nie moes daar die konsekwensies van
aanvaar: óf as martelaars sterf, óf hul geloof offisieel afsweer om te oorleef
en hul kinders in lewe te hou. Pierre se vier jaar ouere neef Samson het in 1692
saam met vyf ander Bergeraccers geprobeer om via Switserland Frankryk te
ontvlug, maar is vlak voor die Switserse grens gevange geneem en tot lewenslange
gevangenisstraf en die galeie veroordeel. Pierre self het in 1696, toe hy byna
21 was, Samson se voorbeeld gevolg en daarin geslaag om via Duitsland Nederland
te bereik, die land by uitstek van godsdiensvryheid. Frankfurt aan die Mainrivier was in dié tyd ’n belangrike eerste vlugdoel
van Hugenote oor die Franse grens. Daar het die Duitse Protestantse Kerk
tienduisende Hugenote opgevang, geregistreer en gehelp om verder te reis na
Nederland en die Skandinawiese lande. Onder die vlugtelinge van die jaar 1696
word die naam van Pierre Labuscagne uit Bergerac vermeld. Of hy toe daar
’n tyd lank gebly het, of elders ’n tydelike heenkome gevind het, weet ons
nie. Wat ons wel weet is dat hy ’n jaar later, op 28 Julie 1697, in Amsterdam
aangekom het, waar hy as vlugteling geregistreer en ingeskryf is as belydende
lidmaat van die Waalse (Franse) Hervormde Gemeente. Ruim ’n jaar later, op 6
Oktober 1698, is hy daar uitgeskryf, blykens sy bewys van lidmaatskap by sy
vertrek na Enkhuizen. In Enkhuizen aan die Zuiderzee het hy hom as kleremaker gevestig,
vermoedelik op uitnodiging van Hugenote wat daar vanaf 1686 ’n heenkome gevind
het. Die Franse vlugtelinge is daar, soos elders in die Nederlande, liefdevol
ontvang en kon as ’n aparte Franssprekende gemeente deel uitmaak van die
Nederlandse Hervormde Kerk, met ’n eie kerkplek en ’n eie predikant, Dominee
Pierre Roufrange. Hy was een van die tweehonderd predikante wat na die
herroeping van die Edik van Nantes Frankryk gedwonge moes verlaat en na
Nederland uitgewyk het. Netsoos ses ander vlugtelinge in Enkhuizen, was hy
afkomstig uit dieselfde streek as Pierre. Dit het daar seker toe bygedra om
Pierre in Nederland tuis te laat voel, na al die verskrikkinge wat hy in
Bergerac meegemaak het en die ontberinge tydens sy vlug. Hy was nou in ’n vry
land, had werk en kon ’n nuwe bestaan opbou en ’n gesin stig. In die klein Franse gemeenskap, waar almal mekaar geken het, het Pierre al
spoedig kennis gemaak met ’n meisie uit Leeuwarden, wie se stiefsuster in
Enkhuizen gewoon het en getroud was met ’n vriend van Pierre. Haar naam was Marie
Anne Bacot (doopnaam Maria Anna), gebore op 2 Maart 1679 uit die gemengde
huwelik van François Bacot,
uit Tours in Frankryk, en Josine Hulscher, uit Groningen. Daaruit kan ons aflei
dat Marie Anne tweetalig was: zowel Nerderlands- as Franssprekend, en dat sy
Pierre kon help om die Nerderlandse taal gou onder die knie te kry. So kon
Pierre later in die Kaap werk kry as tweetalige huisonderwyser om die kinders
van Franse gesinne die Nederlandse taal by te bring. Pierre en Marie Anne is op Vrydag 3 Augustus 1703 in die Westerkerk in
Leeuwarden getroud, nadat hulle gebooie drie agtereenvolgende Sondae in
Enkhuizen afgekondig is en hulle toestemming gekry het om in Leeuwarden te trou.
Marie Anne en haar ouers was naamlik lidmate van die Nederlandse Hervormde Kerk
in die Friese hoofstad. Van al die plegtighede is daar dokumentêre bewys in die
argiewe van beide stede. Gelukkig het ook die dokumente van die beskeie argief van die Franse
Gemeente in Enkhuizen nie verlore geraak nie. Daardeur het ons onder andere die
oorspronklike doopsertifikate van die drie kinders van Pierre en Anne Marie: Jeanne
Bernardine, gebore en gedoop op Sondag 13 Julie 1704, Jean, gebore op
16 Oktober en gedoop op 17 Oktober 1706, en François, gebore op 6 Oktober en gedoop op 7 Oktober 1708. Jeanne Bernardine sou in
die Kaap die stammoeder word van die Maritze en Jean die stamvader van alle
Labuschagnes. François is op jeugdige leeftyd kinderloos oorlede. Ons is ook in die gelukkige posisie om te weet waar die familie Labuscaigne
in Enkhuizen gewoon het: in Torenstraat, ’n straatjie wat uitloop op die plein
van die statige Zuiderkerk. Die presiese rede waarom Pierre in diens getree het van die Verenigde
Oost-Indische Compagnie (VOC), en daardeur in die Kaap de Goede Hoop beland het,
is nie bekend nie. Maar dit lê voor die hand om dit toe te skryf aan ekonomiese
omstandighede. Reeds in die tweede helfte van die 17de eeu het Enkhuizen ’n
ekonomiese neergang beleef, veral deur die sterke konkurrerensie van Amsterdam
as bloeiende stad van handel in Noord-Nederland. Die verwagte groei van
Enkhuizen, veral ook deur die koms van Franse vlugtelinge, het uitgebly. Die
stad is dikwels geteister deur oorstromings en een van die belangrikste
industrieë van die stad, die vissery, het veel te kampe gehad met seerowery en
plundering van vissersbote. Hier kom nog by dat die wewery en kleremakery, waar
Pierre vermoedelik in diens was, ekonomies nie kop bo water kon hou nie en
gesluit moes word, waardeur Pierre waarskynlik werkloos geword het. Miskien het hy gehoor van die ander ‘beloofde land’, wat oorloop van
melk en heuning, en nie te vergeet nie, wyn: die Kaap de Goede Hoop, en dat hy
besluit het om in diens te tree van die VOC om op dié manier ’n tweede nuwe
lewe te begin. Maar dan as wynboer, soos hy dit in die wynstreek Bergerac in sy
jeugjare meegemaak het! Geen wonder nie dat hy, toe hy eenmaal in Paarl ’n
stukkie grond toegewys gekry het, daar uiteindelik ’n wynplaas van gemaak het.
En dat hy sy plaas ‘Pontac’ genoem het ter herinnering aan die wêreldberoemde
Pontacwyn uit die streek waar hy opgegroei het. Vir nadere besonderhede oor ons Franse voorouers word die lesers verwys na
my webwerf: www.labuschagne.net, waar
hulle my volledig gedokumenteerde en van interessante foto’s voorsiene
navorsingsverslag kan lees in Afrikaans, Engels, of Nederlands. Heil die leser! Doopsertifikaat van Jean
Labuscaigne, met Pierre se handtekening
Vertaling
Opmerking 1:
Pierre se handtekening in sy mooi ontwikkelde handskrif staan presies so op nog
twee dokumente. Dit beteken dat daar geen enkele twyfel is oor die manier waarop
hyself sy naam gespel het nie! Opmerking 2: Wie
geïnteresseerd is in my eie afstammingslyn kan op my webwerf die artikel
“Dertien Geslagte Labuschagne” raadpleeg. C.J. Labuschagne |
|
:
|