Uitnodigingsbrief

Labuschagne Familiebyeenkoms
Kroonstad, 2007

Die tweede landswye Labuschagne familiebyeenkoms het soos beplan plaasgevind op die 10de en 11de Maart 2007. Die keuse vir hierdie jaar se byeenkoms het op die Kroonpark vakansieoord geval aangesien dit redelik sentraal tussen Natal , die Rand en die Vrystaat geleë is. Verder het Kroonpark ook voordele soos ‘n verhitte swembad, water glybane vir die kinders, en bekostigbare tariewe ingehou. Boonop het dit goed ingepas by die aanvanklike plan om te probeer om elke jaar ‘n byeenkoms in ‘n ander vakansie te hou sodat ons familie van regoor die land makliker betrek kon word.  

Ongelukkig was die opkoms redelik teleurstellend. Volgens ons berekening was uitnodigings na altesaam meer as 250 persone gestuur. Hiervan was daar heelwat persone wie se adres besonderhede intussen verander het sodat baie epos boodskappe onafgelewer teruggekom het, en verskeie telefoon- of faks nommer of nooit beantwoord was nie, of nie meer gewerk het nie. Uit die hele getal het uiteindelik slegs 13 persone opgedaag. Verskeie persone wat aangedui het dat hulle wel sou kom het ook op die ou end sonder verskoning eenvoudig nie opgedaag nie. En enkele ander kon op die laaste nippertjie weens geldige redes nie kom nie. Ons het ongeveer 30 persone verwag, wat min of meer ‘n billike opkoms sou gewees het vir ‘n jong, nuwe familie assosiasie. Niemand het verwag dat daar maklik ‘n herhaling van verlede jaar se 101 bywoning sou wees nie, maar 30 sou darem beter gewees het as 13. Dit blyk egter of die instink van ons voorvaders om verspreid oor die horisonne te trek, ons maar ten ene male nog nie verlaat het nie. Dit het my inderdaad herinner aan die tyd toe die Voortrekkers se verkennings-ekspedisie Natal binnegetrek het en Piet Retief sy Trekgenote so ernstig gemaan het om tog bymekaar te bly. Die Trekkers het dit egter eenvoudig te moeilik gevind om saam te bly en het uiteindelik oor ‘n enorme landstreek verspreid geraak—iets wat later tydens die tragiese gebeure van Moordspruit, Bloukrans en Boesmansrivier berou was. Miskien is dit maar eenvoudig in ons bloed om instinktief ons eie gang te gaan en om eerder as ‘n gideonsbende op te tree. .. 

Bywonende lede: Agter l.n.r: Phillip; Les; Hennie; Jan; Casper; Herman; 
Voor l.n.r:
Rae; Beth; Monica: Jakkie; Francoise. (Hennie en Arno afwesig in die foto.)

Bywoners:

Hennie & Monica—Meyerton
Les & Rae— Pretoria
Hennie & Arno—Kroonstad & Johannesburg
Casper —Kroonstad
Herman— Johannesburg Wes-Rand
Francoise—Sandton
Jan & Jakkie—Klerksdorp
Phillip & Beth—Paulpietersburg  

Getalle ten spyte, het die naweek gelukkig darem heel gesellig uitgedraai. Saterdag se besprekings is deur voorsitter Hennie gelei. Daar was aanvanklik gewonder of die jaarlikse byeenkomste afgeskaf behoort te word tot die 300-jarige herdenkingsdatum, maar na ‘n bespreking het almal uiteindelik besluit dat ons byeenkomste eerder ‘n jaarlikse instelling moet bly—al sou die getalle in die begin dalk ‘n bietjie dun wees. As dit sal help om byeenkomste eerder naby die grootste konsentrasie familieliede te hou in die Rand-gebied, was daar voorgestel dat daar gekyk moet word na ‘n vakansie-oord naby Buffelspoort of andersins naby die twee groot stede. Aangesien die Buffelspoort area byvoorbeeld nie ver noord van Pretoria is nie kan die opkoms dalk beter wees. As enigiemand egter voorstelle het vir enige ander geskikte plekke vir ‘n familiebyeenkoms sal ons graag daarvan wil verneem.  

Die lapa by Kroonpark het 'n dubbele doel gedien met sy groot braai in die agtergrond.

Aangesien die getalle te min was om die restaurant te regverdig het ons die Saterdag-aand ons eie braai in die lapa gehou en tot elf-uur gesit en stories uitruil. Daar was baie gelag en geskerts, en wat dit nog meer persoonlik gemaak het was die feit dat almal vir ete om dieselfde tafel kon aansit. Dit was in elk geval ook die 22ste herdenking van Jan en Jakkie se troudag sodat daar bepaald rede tot viering was. Ons was ook in staat om heerlik ou foto’s te besigtig, kop te krap oor familie verwantskappe, familie data op te teken en te probeer uitpluis op welke manier ons van mekaar familie was. Dit is gelukkig die groot voordeel van kleiner byeenkomste—mense leer mekaar baie meer persoonlik ken en mens bou vriendskappe wat meer bindend is.  

Die Sondag is verskeie bondbestuurskwessies bespreek. ‘n Nuwe bondbestuurskomitee is verkies bestaande uit lede van sommige van verlede jaar se komitee, sowel as ‘n paar nuwelinge. Casper en Hennie van Kroonstad het onderneem om te probeer om ‘n satelliet groep bestaande uit plaaslike Labuschagnes bymekaar te maak, en dit was ons voorreg om hulle sommer dadelik tot die nuwe bestuur te kon verwelkom. So ook Francoise van Sandton en Willie van Johannesburg, en natuurlik laastens, Les van Pretoria, en Hennie, Monica, Esperanza en myself van Johannesburg.  Willem van Richardsbaai en Phillip van Paulpietersburg sal soos benodig addisionele 

Voorgestelde famliebondskild wat deur die Buro van Heraldiek verskaf is. Hierdie ontwerp is nog geensins gefinaliseer nie en belangstellendes word dringend uitgenooi om enige gedagtes of ontwerp-voorstelle met die bondbestuur te deel.

Die kwessie van die ontwerp van die nuwe wapenskild vir ons familiebond is ook bespreek. Les het ‘n voorgestelde ontwerp van die Buro van Heraldiek ontvang wat vir kommentaar voorgelê was. Die kommentaar en voorstelle wat ons tot dusvêr ontvang het was bespreek, en daar was ‘n bietjie besin oor die algemene ontwerp, kleure en heraldiese simbole wat weggelaat, verander, of behou kon word. Die ontwerp is nog nie heeltemal gefinaliseer nie, maar aangesien dit wapen meer as R3,000 gaan kos en ongeveer die tweede helfte van die koste nog nie ingesamel is nie, is daar gelukkig nog genoeg tyd om met nog voorgestelde ontwerpe vorendag te kan kom. As enigiemand intussen verdere voorstelle of ontwerpe met ons wil deel sal dit met dankbaarheid ontvang word.  

Wat die herdenking van ons 300-jarige stamplanting aanbetref was die belangrike nuus dat die datum van 2010 na 2011 verskuif sal moet word. Dit volg op die ontdekking dat ons voorvader, Pierre Labuscaigne, eers op 14 Mei 1711 in die Kaap aangekom het, en nie in 2010 soos daar al die jare geglo was nie. Dit mag egter ‘n bedekte seën wees aangesien die herdenkingsjaar in 2010 saam met die Wêreldbeker sokkertoernooi in Kaapstad sou val, wat moontlik die kostes sou verhoog en die logistiek van die hele byeenkoms aansienlik kon bemoeilik het.  

Dit was goed om te kon hoor dat die huidige eienaars van Pontac Landgoed, die oorspronklike plaas van Pierre Labuscaigne in die Paarl, die gedagte baie goedgesind was om ons op die ou plaas te kan verwelkom vir die herdenking. Die eienaars het verskeie opwindende voorstelle gemaak vir die herdenkingsaktiwiteite wat waarskynlik later bekend gemaak sal word as die reëlings meer gevestig is.  

Verder was daar ook gesels oor die huidige stand van navorsing oor die familie stamboom, sowel as die uitbreiding van ons databasis van Labuschagnes. Die databasis is steeds besig om elke jaar groter te groei, en dit is bemoedigend om te sien dat daar toenemend meer Labuschagnes is wat hulle familie besonderhede begin bydra om suksesvol in die stamregister opgeneem te kan word. Met ‘n kontak databasis wat nou al na die orde van 270 persone mik, begin dit nou moeilik raak om effektief met almal in verbinding te bly. Die maklikste manier sou wees om van epos kommunikasie gebruik te maak.  

Gelukkig is daar al reeds 72 lede op die Labuschagne epos geselslys, want dit raak tegnologies nogal moeilik om die oorblywense byna 100 epos gebruikers te bereik. Die probleem kom by die feit dat baie gebruikers se bedieners epos boodskappe wat aan meer as tien persone op ‘n slag gerig word, as gemorspos beskou, en dan die versender (die Labuschagne bond) as ‘n gemorspos-organisasie probeer swartlys. Die epos lys is ‘n baie goeie manier om hierdie probleem permanent te oorkom, en ook om te help dat lede wie se adresse verander, makliker in kontak kan bly. Daar is dus aanvaar dat die beste oplossing op hierdie stadium sou wees indien ons familie so ver moontlik aangemoedig sou word om by die epos geselslys aan te sluit. Hierbenewens sal dit waarskynlik moontlik wees om ander lede darem een of twee keer per jaar per SMS te bereik, terwyl die res maar gekontak sal kan word soos finansies en hulpbronne dit moontlik maak.  

Die "beendere van ons voorvaders" word in genealogiese terme uitgelê.

Aan fondse het die familiebond nog nie vreeslik baie nie, maar ons bankrekening het darem al ‘n groei getoon wat dit moontlik gemaak het om van die uitgawes te begin dek. Danksy drie groterige private donasies was dit moontlik om ‘n deposito op die bondswapen te betaal, om die nuwe internet domein naam van www.labuschagne.biz te registreer, en ‘n jaar se beniening spasie vooruit te betaal, asook nog ‘n paar kostes uit die weg te ruim.  

By hierdie algemene vergadering is die voorgestelde familiebond grondwet goedgekeur en is daar ook formeel afgeskop om familiebond lidmaatskap aan te bied. Dit is vir ons aangenaam om aan te kondig dat die Labuschagne familiebond nou ‘n netjiese lidmaatskap sertifikaat aan sy ingeskrewe lede kan bied. Bond lidmaatskap is bekombaar in ruil vir ‘n donasie, waarvan die voorgestelde teiken-bedrag R50 per gesin per jaar beloop. Indien die bedrag nie heeltemal bekostigbaar is nie is enige ander bedrag ook aanvaarbaarbaar. Netso word groter bedra ook verwelkom vir diegene wat ‘n groter besorgdheid het met die suksesvolle uitbouing van ‘n organisasie wat hom toelê om die vaslegging en behoud van ons familie se identiteit en geskiedkundige erfenis. Tot dusvêr het die bondbestuurslede meeste kostes self gedra, en dit sal bepaald welkom wees as die organisasie meer ekonomies selfstandig kan begin word. Persone wat gereed is om by die familiebond aan te sluit en wat hulle genommerde familiebond lidmaatskapsertifikate wil bekom kan gerus by www.labuschagne.biz/familiebond.htm besoek aflê. Dit is vir ons aangenaam om bekend te maak dat Willie Labuschagne van Kroonstad ons heel eerste lid van die familiebond was, met sy sertifikaat genommer as no. “1”!  

Les gee terugvoering omtrent die Labuschagne familiewapen met voorsitter Hennie langs hom.

Teen Sondag-middag het almal begin verdaag. ‘n Paar van ons het nog vir oulaas vir middagete by ‘n restaurant bymekaargekom om ‘n laaste paar grappies uit te ruil en ‘n nabetragting van die naweek se gebeure te hou. Ek ontvang toe ‘n oproep van ‘n Dorsland trek Labuschagne familie wat my uitnooi om op pad terug na Johannesburg by hulle aan te doen aangesien hulle baie naby die nasionale pad woon. Hierdie besoek het tot ‘n lekker kuiertjie met nog vier familielede gelei, waartydens nog waardevolle foto’s en data versamel kon word.  

Om op hierdie stadium terug te kyk kan ek nie help om te voel dat die naweek vir my persoonlik die moeite werd was nie. Ek kon huiswaarts keer met nuwe data en minstens twee nuwe Vrystaatse familietakke gedokumenteer. Ons sien nou uit na volgende jaar se byeenkoms en hoop dat dit ‘n heelwat groter, dog steeds gesellige byeenkoms sal wees.

Herman Labuschagne

:

Kontak besonderhede:

Besoekers sedert Januarie 2007: Hit Counter

Bondbestuurskwessies:

Bondvoorsitter: Hennie Labuschagne
082 782 3210

Webtuiste en Navorsingsnavrae:

Herman Labuschagne
011 474 8094 (w)