|
|
|
|
Op 14 Mei 1711 het 'n 36-jarige Franse Hugenoot met die naam Pierre Labuscaigne aan wal gestap by die Kaap de Goede Hoop. Min het Pierre kon raai dat sy uitgebreide familie heeltemal in Frankryk sou uitsterf en dat alle Labuschagnes op aarde uiteindelik van hierdie enkele stamvader sou afstam. Pierre Labuscaigne se nageslagte het as vryboere gehelp om die Kaap te ontwikkel. Later het hulle na die Kaaps Oosgrens verhuis, waar hulle hulle in die middel van die jarelange grens-drama en -politiek sou bevind en swaar sou deurloop onder die vernietigende effekte van strooptogte en die grens-oorloë. Mettertyd sou die familie in verskillende groepe met die Groot Trek regoor Suid-Afrika versprei. Hulle voetspore word gevind in die Paarl, by Slagtersnek, by Vegkop, Bloedrivier, Mosega, Kwa-Matiwane, Veglaer, langs die pad van die Dorsland Trek, die Eerste- en Tweede Anglo-Boereoorloë, en uiteindelik ook in die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë. In vrede en oorlog, in kultuur en kerk, selfs in politiek—oral het die nageslagte van Pierre Labuscaigne hul gehelp om 'n nasie te bou en die geskiedenis van Suid-Afrika te skryf.
Vandag word die nageslagte of grafte van Pierre Labuscaigne in toenemende getalle gevind regoor Suid-Afrika, asook reeds in lande soos Engeland, Kanada, die VSA, Australië, Nieu Seeland, Oostenryk, Frankryk, Skotland, Mauritius, Zimbabwe, Zambië, die ou Suid-Wes Afrika (nou Namibië), Botswana, Tanzanië, Kenya, Italië, die Midde-Ooste, en Ethiopië. Sover bekend word die van onderskeidelik gespel as Labuschagne, Buscagne, Labuscagne, en La Buschagne. Soos hierdie trotse ou Hugenote familie toeneem in getalle en oor die wêreld versprei raak dit toenemend belangrik dat moeite gedoen word om te probeer verhoed dat al sy lede onherroepelik uitmekaar dryf en kontak verloor. Om hierdie rede is die Labuschagne familiebond gestig—'n familiebond is bloot 'n georganiseerde poging om 'n baie groot familie bymekaar te hou en sy identiteit te bewaar vir die nageslag. Sluit aan by die Labuschagne Familiebond! Voel uself welkom om vandag nog by die Labuschagne familiebond aan te sluit. Die hele familie is welkom en ons sien daarna uit om elke nuwe naam by die ledelys te kan voeg. Kliek gerus hier vir meer inligting omtrent die Labuschagne Familiebond. Die Labuschagne Epos geselsgroep verwelkom enigeen wat belang stel in Labuschagne navorsing. Sluit gerus vandag nog aan! Kliek hier indien u stap-vir-stap instruksies wil bekom oor hoe om by die epos geselslys aan te sluit.
|
|
:
|